God is in beheer!
MISKIEN was daar ook oomblikke in jou lewe waar jy die vraag van Psalm 10:1 wou vra:
“O‚ Here‚ waarom staan u so ver weg …?”Vandag met al sy nsekerheid waar die mens soek na vastigheid en na rigting en na rus en vrede en sekuriteit‚ vra die mens dit des te meer. En jy soek dit by iemand groter as jyself – jy soek dit by God.
Is Hy in beheer van sake? Alles lyk dan so Godloos! Ons lewe voorwaar in verwarrende en droewige omstandighede. Suid-Afrika is ’n gekweste en brandende land. ’n Land waar die duiwel sy bes probeer om ’n geweldstruktuur te vestig. Moord en doodslag en ongebreidelde geweld is aan die orde van die dag.Daarby het ’n gees van materialisme en magswellus en morele verwildering en pessimisme van ons besit geneem. En in jou eie huiskring is daar hartseer en teleurstelling en pyn en lyding en siekte en dalk die dood. En miskien het jy ook al neerslagtig begin wonder: Is dit dan hoe God se wêreld lyk? En is God ooit nog in beheer?Wat sê die Bybel? Die belangrikste is dat God nie beheer verloor het nie. Daarom laat Hy ook nie toe dat die verkeerde handuit ruk nie. Judas vers 6 sê duidelik dat God Satan en sy trawante met onbreekbare kettings gebind het.
En tog laat God toe dat die Satan ons op beperkte wyse beproef en versoek. God laat toe dat ons soms ernstig siek word en dat ons elkeen aan die einde van ons dae die dood in die gesig sal staar. Maar Hy laat dit alles toe met ’n doel. Hy gebruik dit as ’t ware sodat sy verlossingsplan kan slaag. 1 Petrus 1:7 sê: Hy toets daarmee die egtheid van ons geloof. Jakobus 1:2-4 sê: Sodat ons tot volle geestelike rypheid kan kom. Hebreërs 12 sê dat God soms die dinge gebruik om ons te tugtig sodat ons weer in gehoorsaamheid sal terugkeer.
Wat die duiwel dus ten kwade bedoel het‚ keer God in sy almag om sodat daaruit die goeie gebore kan word. Josef sê aan sy broers: Julle wou my kwaad aandoen‚ maar God wou daarmee goed doen. Op ’n verborge wyse staan ál die gebeurtenisse (ook die negatiewe dinge) in die wêreld dus tog wel in diens van die koms van Gods koninkryk.
Die pyn van vandag is heel moontlik die saad vir ’n beter môre. Ook die pyn wat ons ervaar met teleurstelling en droogte en rampe en onrus en siekte en dood … is eintlik maar soos ’n geboortepyn waaruit die nuwe gebore kan word. ’n Nuwe dag. ’n Nuwe môre. ’n Nuwe blydskap. Die nuwe lewe in Jesus Christus‚ en uiteindelik ook die ewige lewe. In Romeine 8 sê Paulus dit in soveel woorde: Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting … Maar ons weet ook dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet.
My God lewe … en my God is in beheer … en ek weet aan wie ek my toevertrou het‚ al wissel dan ook dag en nag. Ek ken die rots op wie ek gebou het van wie ek al my heil verwag.
Bron: Midweek Bediening


0 comments:
Post a Comment