‘n Ligpuntjie in die donker
Gen 6:8 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.
Kanker is ‘n gevreesde siekte. Die boodskap: “Jy het kanker”, is soos ‘n doodsvonnis. Dit maak jou lewe donker. So is sonde. Dit bring net donker. Toe die Here in Gen 1:31 na sy skepping gekyk het, het Hy gesien dat alles “baie goed” was. Nou lyk alles egter anders. Sonde het oor die aarde versprei. Mense het nie meer naby God en in gehoorsaamheid aan sy wil gelewe nie. Die “dogters van die mense” (ongelowiges) was vir die “seuns van God” (gelowiges) baie mooi en hulle het met mekaar getrou. So is die lewe van gelowiges deur die donker van sonde bedreig.Daarom het dit “die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart”. Hy was nie spyt dat Hy die mens gemaak het nie. Hy was diep teleurgestel en hartseer omdat die mense Hom verwerp het. Daarom besluit Hy om die aarde skoon te vee soos ‘n mens ‘n bord skoon vee wanneer jy klaar geëet het.
In hierdie donker was daar een ligpuntjie - Noag. Hy het “genade gevind in die oë van die Here”. Noag was ‘n “regverdige en opregte man” wat “met God gewandel” het. Omdat hy geglo het, het hy gedoen wat die Here wil. Geloof het Noag anders laat optree as sy tydgenote. Geloof het van hom ‘n ligpunt in die donker wêreld gemaak. Noag wys dat ‘n mens deur genade en die werking van die Heilige Gees sonde kan weerstaan. Daarvoor het Christus aan die kruis betaal. Deur geloof in Hom maak God van elke gelowige ‘n ligpunt in die donker wêreld. Laat jou lig vandag helder in die donker skyn.
Ds AP Krüger (Postmasburg)


2 comments:
So waar
Nota:
1.Strewe daarna om so voorbeeldig soos Noag te lewe, naby God.
2.Wees gehoorsaam aan God soos Noag toe hy sonder teekanting die ark gebou het onder gespot van mense.
Post a Comment